In die voortslepende geskil tussen die ANC-regering en Hoërskool Ermelo oor Afrikaans, het die Grondwethof vandag bevind dat die onderwysdepartement van die Mpumalanga-provinsie onwettig opgetree het deur Ermelo-hoërskool te dwing om sy taalbeleid te verander.
Maar die Grondwethof het terselfdertyd die beheerligaam van Hoërskool Ermelo beveel om sy Afrikaanse taalbeleid te hersien.
"Die beheerliggaam van Hoërskool Ermelo moet sy taalbeleid hersien en dit in ooreenstemming met die grondwet vasstel," het adjunkhoofregter Dikgang Moseneke gesê.
Intussen is die onderwysdepartement van Mpumalanga beveel om aan die Grondwethof verslag te doen oor hoe die departement die oorbevolkingsprobleem in skole gaan oplos.
In Januarie 2007 het Ermelo-hoërskool gesê dat dit 'n groep Engelssprekende kinders slegs kon akkomodeer indien hulle bereid was om onderrig in Afrikaans te ontvang.
Volgens die Suid-Afrikaanse skolwet 84 van 1996, word 'n skool se taalbeleid deur daardie skool se beheerliggaam bepaal.
Die Engelsmediumskole in Ermelo kon nie die groep inneem nie omdat hulle nie meer ruimte vir leerlinge gehad het nie.
Nie almal van hulle kon by Hoërskool Ermelo opgeneem word nie omdat hulle nie in Afrikaans onderrig wou word nie.
Omtrent twee weke later het die hoof van die onderwysdepartement summier die bevoegdhede van die beheerliggaam opgeskort en 'n tussentydse komitee van sy eie amptenare aangestel om daardie funksie te verrig. Die komitee het besluit om die skool se taalbeleid na parallelmedium te verander.
Ook het die departement 'n vergeldingsaksie teen die hoof van Hoërskool Ermelo, mnr. Koos Kruger, van stapel gestuur en hom summier uit sy pos geskors. Kruger is sedertdien in 'n arbeidsaak met die departement gewikkel.
Die skool het die departement se besluit in die Hooggeregshof betwis en die saak verloor. Daarop is die saak na die Appèlhof in Bloemfontein geneem, waar die skool gelyk gegee is.
Maar die ANC in Mpumalanga was nog nie tevrede nie en het besluit om na die Grondwethof te appeleer met die argument dat sy optrede "wettig" was.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





